Stel nou jouself voor dat jy langs die See van Galilea staan, waar hierdie ontmoeting tussen Jesus en Petrus plaasvind.
Jy hou die ontmoeting dop……Voel die hitte van die oggendson, hoor die water wat saggies teen die oewer kabbel. Ruik die vis wat op die vuur braai.
Luister, soos die gesprek tussen Jesus en Petrus ontvou…
Jy sien hoe Jesus, sit by die vuur, en hy kyk na Petrus, terwyl die hitte van die vlamme oor die kole dans. Die oggendlig weerkaats op die see, maar dit is hoe Jesus kyk wat Petrus vasvang—sag, maar deurdringend. Jy voel die gewig van die oomblik soos Petrus ongemaklik rondskuif, bewus dat Jesus nie net oor sy dade wil praat nie, maar oor sy hart.
Jesus vra hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My liewer as hierdie dinge?” Jy hoor die vraag nie net as woorde nie, maar as ’n roeping—’n uitnodiging om diep te delf na wat regtig saak maak. Petrus kyk af, asof die kole voor hom die antwoord kan gee. “Ja, Here,” sê hy saggies, “U weet dat ek U liefhet.”
Jesus glimlag sag en sê: “Laat my lammers wei.” Dan vra Jesus weer. En nog ’n keer. Elke keer gaan die vraag dieper, en stroop dit die lae van Petrus se skaamte, spyt, en onsekerheid weg. Jy kan amper Petrus se hart voel klop met die herinnering aan daardie nag toe hy Jesus drie keer verloën het.
En tog is Jesus hier—nie om hom te veroordeel nie, maar om hom te herstel. Jesus vra nie die vrae om sy mislukking uit te wys nie, maar om genesing te bring.
Dan hoor ek Jesus woorde aan Petrus: “Toe jy jonk was, het jy self jou klere aangetrek en gegaan waar jy wou. Maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitstrek, en iemand anders sal jou lei na waar jy nie wil gaan nie.” Dit is ’n ernstige herinnering dat dit nie altyd maklik is om Jesus te volg nie, maar dat dit altyd die moeite werd is. Petrus jou pad gaan nie maklik wees nie.
Petrus kyk na Johannes, die dissipel vir wie Jesus lief is, dalk om te wonder wat sy pad sal wees. Maar Jesus lei hom saggies terug: “As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat het dit met jou te doen? Jy moet My volg.”
Skielik maak alles sin. Jesus roep vir Petrus—en jou—om nie ons pad met enigiemand anders s’n te vergelyk nie, maar om Hom te volg, stap vir stap, maak nie saak waarheen Hy jou lei nie.
Jesus, ek hoor U stem wat vra in die stilte van hierdie oomblik: “Het jy My lief? Volg My.”
Vra:
Here, help my om die afleidings, vergelykings en vrees te laat gaan. Help my om te vertrou dat U waar ek ook al gaan, altyd by my sal wees. Gee my die moed om te volg, of die pad maklik of moeilik is, of die koste groot of klein is. Soos U vir Petrus herstel het, herstel my, Here, en help my om in U weg te wandel, waar dit my ook al neem.
Adres
Portion 397 of Waterkloof no 305
R24, Waterkloof
Rustenburg
Kerkkantoor
Kantoor ure:
Maandae tot Donderdae
vanaf 09:00 tot 13:00
Kontak Nommer:
079 509 6319
info@watervalgemeente.co.za
Sondae Dienste
Dienstyd: Sondae 09:00
Ons sien uit daarna om jou te ontmoet.