Hoe word ons ‘n gesin wat wys met tegnologie te werk gaan?
Eenvoudige riglyne (geïnspireer deur Andy Crouch se boek nl. The Tech-Wise Family)
Tegnologie is hier om te bly en daarom is die belangrik dat gesinne saam dink oor hoe hulle tegnologie gebruik in hul huishoudings. Die hart van hierdie riglyne is bloot daar om jou as gesin uit te nooi om prakties oor tegnologie te dink.
Die doel is nie om tegnologie totaal en al te verwerp nie. Die doel is eerder om tegnologie op die regte plek te plaas in jul huishouding, sodat julle as gesin in wysheid en konneksie met mekaar kan groei.
Hier is ‘n paar praktiese ‘commitments’ wat julle as gesin saam op kan besluit en kan uitleef:
1. Groei saam as gesin in wysheid en moed, nie net as individue nie.
Praat openlik oor die rol van tegnologie in julle huis. Maak dit ’n gesinsprojek, nie bloot ’n stel reëls wat afgedwing word nie. Besluit dan saam hoe julle as gesin saam wil groei en tegnologie nodig is en ook nie nodig is nie.
2. Skep meer as wat julle verbruik.
Vul ruimtes van julle huis met dinge wat kreatiwiteit en vaardighede aanmoedig: musiekinstrumente, boeke, kunsbenodigdhede, gereedskap en speletjies, eerder as skerms en tegnologie wat jou nooi om passief te wees deur eindeloos te ‘scroll’.
3. Handhaaf ’n ritme van werk en rus.
Skep as gesin gereelde tegnologievrye tye: ’n uur elke dag, ’n dag elke week en ’n week elke jaar. Gebruik daardie tyd om te rus, saam te eet, te speel en met mekaar te ‘connect’.
4. Waar word toestelle gebere?
Hou selfone en ander toestelle uit slaapkamers gedurende die nag. Kyk om ‘n ritme te ontwikkel as gesin waar die dag sonder ’n skerm te begin en om die dag ook so af te sluit. So begin jou dag rustig en sonder die afleiding van tegnologie en verbeter jou slaap omdat jy bloulig vermy.
5. Stel skermtyd vir jong kinders so lank moontlik uit.
Probeer om toestelle en skermtyd vir so lank as moontlik uit te stel totdat kinders ouer is. “’n Geen skerms voor dubbelsyfers”-benadering is ’n goeie riglyn. Hierdie is ‘n goeie punt waarop julle as gesin kan besluit wat ‘n die skermtyd limit in julle huis – dit geld vir beide ouers en kinders.
6. Gebruik skerms doelbewus en saam.
Kies met noukeurig waarna julle kyk of wat julle speel, en doen dit waar moontlik saam as gesin, eerder as om elkeen afsonderlik doelloos deur inhoud te ‘scroll’.
7. Maak motorritte gesprekstyd.
Weerstaan die versoeking om elke rit met skerms of oorfone te vul. Die motor kan ’n baie natuurlike, ontspanne ruimte wees vir betekenisvolle gesprekke.
8. Kies openheid bo geheimhouding.
Eggenote deel wagwoorde met mekaar, en ouers bly op ’n sinvolle manier betrokke by wat hulle kinders aanlyn doen en sien. Deursigtigheid bou vertroue en skep veiligheid.
9. Wees fisies teenwoordig by die groot oomblikke van die lewe.
Teenwoordigheid, is ‘n baie kragtige manier vir gesinne om te voel ons groei in konneksie en liefde vir mekaar. Leer jou kinders en oefen dit in van jongs af om teenwoordig te wees beter is as om in jou eie wêreld gedryf deur tegnologie te wees. Verhouding en konneksie bo tegnologie.